image001

SUSANNA SMIT STUDIEFONDS

Susanna Smit – 'n vrou wie se moed, geloof en deursettingsvermoë diep spore in die geskiedenis van Suid-Afrika gelaat het. Geïnspireer deur haar verhaal het Helpende Hand Studietrust die Susanna Smit Studiefonds gestig. Die studiefonds is daarop gemik om rentevrye studielenings aan vroulike studente te verskaf, sodat hulle hul akademiese drome ten spyte van finansiële uitdagings kan verwesenlik.

Wie was Susanna Smit?

Susanna Smit (1799–1863), die geliefde suster van Gert Maritz, is in die geskiedenis verewig as 'n vrou van geloof, karakter en beginsel. Sy is veral bekend vir haar vurige woorde tydens die Groot Trek: "Ek sal eerder kaalvoet oor die Drakensberge trek as om onder Britse bewind te leef sonder godsdiensvryheid."

Susanna was 'n ikoniese vrou wat met waardigheid en wysheid haar plek in 'n mansgedrewe wêreld oopgeveg het. Vandag staan sy steeds as simbool van vroue se krag, deursettingsvermoë en opoffering – waardes wat steeds relevant is.

Waarom ’n studiefonds in haar naam?

Vandag ervaar duisende jong vroue in Suid-Afrika nog steeds strukturele, sosiale en ekonomiese uitdagings op hul pad na tersiêre opleiding. Armoede, beperkte toegang tot finansiële hulpbronne en kulturele verwagtinge verhinder baie talentvolle vroue om hul potensiaal te verwesenlik.

Die Susanna Smit Studiefonds is Helpende Hand se reaksie op hierdie werklikheid. Deur die nalatenskap van 'n vrou wat haar tyd vooruit was te eer, bied ons vandag 'n antwoord op die behoefte aan groter toegang tot hoër onderwys vir vroue.

Susanna Smit Studiefonds

Doel & omvang van die fonds

Sedert 2020 het die Susanna Smit Studiefonds reeds 29 vroulike studente met rentevrye studielenings ter waarde van meer as R2 miljoen ondersteun.

Die studiefonds bied:

  • ondersteuning aan studente wat aan die akademiese vereistes voldoen, maar finansieel nie toegang tot hoër onderwys het nie;
  • die geleentheid om deel te word van 'n gemeenskap van alumnivroue wat as mentors en rolmodelle vir die volgende generasie kan dien.

Enige vroulike student wat aan die fonds se kriteria voldoen en toewyding tot haar studies, persoonlike groei en diens aan haar gemeenskap toon, kan aansoek doen vir 'n rentevrye studielening.

Waarom jou bydrae saak maak

Elke skenking aan die Susanna Smit Studiefonds is ’n belegging in die toekoms van ’n jong vrou – en daarmee saam in die toekoms van ons land. Deur ’n student die geleentheid te bied om te studeer sonder die las van rente en toenemende skuld, gee ons haar die vryheid om te fokus op haar akademiese sukses en gemeenskapsbou.

’n Uitnodiging tot betrokkenheid

Ons nooi individue, sakeondernemings en gemeenskappe uit om deel te word van hierdie betekenisvolle studiefonds. Wanneer u die Susanna Smit Studiefonds ondersteun, belê u nie net in 'n vrou se studiegeleentheid nie, maar ook in 'n nalatenskap van hoop, geleenthede en selfstandigheid.

Laat Susanna se nalatenskap voortleef in elke jong vrou wat groot drome koester en net 'n geleentheid nodig het om dit te verwesenlik.

DIS MEER AS ‘N LENING – DIS ‘N TOEKOMS!

Die Helpende Hand Studie Trust (IT 3970/2001 (T)) is ‘n geregistreerde Openbare Weldaadsorganisasie (OWO) met Reg No. 93000 6586.

HH-Studietrust snapscan

Die Helpende Hand Studietrust
Bank: FNB
Rek No: 62331447541
Takkode: 261550
Verwysing: SS/Besigheidsnaam/naam&van
Swift Kode: FIRNZAJJ

Maak ‘n verskil met jou donasie en ontvang ‘n artikel
18A-belastingsertifikaat vir belastingvoordele.

SAAM MAAK ONS 'N VERSKIL

Oor die Berg

07/08/2025

Rene Roux Bestuurshoof Media Solidariteit Helpende Hand Daar is vroue in ons pragtige land wat geroep word om stories word, verhale van hoop en liefde en omgee en opstaan. Nie omdat hulle voor op die verhoog staan nie, maar omdat hulle in stilte baanbrekers werk doen. Een só ’n vrou was Susanna Catharina (Maritz) Smit, […]

Scroll to Top