Rene Roux Bestuurshoof Media
Solidariteit Helpende Hand
Daar is vroue in ons pragtige land wat geroep word om stories word, verhale van hoop en liefde en omgee en opstaan. Nie omdat hulle voor op die verhoog staan nie, maar omdat hulle in stilte baanbrekers werk doen. Een só ’n vrou was Susanna Catharina (Maritz) Smit, beter bekend as “Susanna” ook as “Susanna die geliefde”. Haar woorde “Ons trek liewer kaalvoet oor die Drakensberge…” eggo tot vandag in die harte van vroue wat weet hoe dit voel om stukkie vir stukkie oor hul eie berg te moet klim. Daar is steeds daardie kaliber vroue in ons Suid-Afrika, en vir hierdie vroue is Solidariteit Helpende Hand dankbaar, hierdie vroue wil ons bemagtig en ondersteun met welstand deur werksyn.
Vanuit hierdie behoefte om vroue te bemagtig om te kan studeer en ‘n voorspoedige toekoms vir hulle te help verseker waar ons kan is die Susanna Smit Studiefonds gebore. Die is ‘n rentevrye studiefonds van die FroueVonds, vernoem na dié inspirerende figuur. Net soos Susanna destyds onverskrokke die pad vorentoe aangepak het, so word vroue vandag bemagtig om hul eie toekoms aan te pak, met ‘n boek in die een hand en hoop in die ander.
Het jy geweet:
· 2 uit 3 Suid-Afrikaners sonder opleiding leef in armoede.
· 60% van mense met slegs primêre onderrig leef in armoede.
· Selfs met sekondêre onderrig is die syfer 44%.
Dis nie net statistiek nie dis wys vir ons hoe belangrik tersiêre opleiding is en dat dit werklik die sleutel tot ’n beter lewe behou. Die Susanna Smit Studiefonds vorm deel van die Solidariteit Helpende Hand StudieTrust wat al 17 jaar suksesvol bestuur word en duisende studente al in die werksmag geplaas het. By hierdie baie spesiale fonds vir dames wil ons wil nie net rentevrye studielenings bied nie, ons wil graag deure oopmaak. Dit gee vroue die kans om ’n beroep aan te leer, ekonomies onafhanklik te wees, en weer die terug in hul gesinne te ploeg maar ook terug te ploeg in die volgende student se studies met haar terugbetaling want dis wat vroue doen.
Vandag het die studiefonds reeds 28 jong vroue gehelp om hul drome aan te pak. Hulle leer, skep, genees en bou. As haarkappers, onderwysers, maatskaplike werkers, dokters, argitekte, ontwerpers en meer. Elke een is ’n antwoord op Susanna se nalatenskap. Hulle trek nie net kaalvoet oor die berg nie, hulle help ander om saam te klim.
Wat vir my mooi is veral in die ruimtes binne Solidariteit Helpende Hand waar ek my roeping elke dag leef is dat die Susanna Smit Studiefonds al twee maatskaplike werkers vir die werk in ons land kon help om te studeer. Hierdie twee studente het hul roeping in maatskaplike werk gevind, waar hulle elke dag daarvoor veg om vir kinders, vroue en gesinne ‘n voorspoedige toekoms te voorsien.
Wanneer ek dink aan Susanna Smit en wonder oor wat sy sou dink oor hierdie tipe fonds wat met soveel ywer en sukses in haar naam bestuur word, hoor ek die kaalvoetvrou se stem ego oor die berge. Ek is van mening dat sy dit sou beskou as ‘n teken van hoop. Net soos wat sy
destyds tydens die Groot Trek dogters leer naaldwerk doen het en kinders geleer het om te spel, skryf en somme te maak, dink ek dat sy ook vandag graag sou wou deel wees van die opleiding wat gebied word aan jong vroue.
As sy vandag na die Susanna Smit Studiefonds kon kyk, sou sy waarskynlik nie oor haarself gepraat het nie. Ek dink sy sou vir my gevra het, “Dien dit die volk? Dien dit God? Hou dit kinders uit armoede? Bemagtig dit dogters om hulle stemme te vind?” En my antwoord aan haar sou ‘n trotse en volkome JA gewees het. Ek sou bygevoeg het dat ek wens sy kon sien hoe gemeenskappe saam staan en fondse skenk om hierdie vroue te help om hulle eie berge te klim. Ek is vas oortuig dat sy die volgende van die fonds opreg sou waardeer:
Opoffering en vasbyt:
Susanna het verstaan dat ware verandering op opoffering berus. Jong vroue wat studeer met behulp van die fonds, neem juis hierdie pad, hulle werk hard, weerstaan versoekings om vroeg op te gee, en dra swaar verantwoordelikheid vir hul gesinne se toekoms. Sy sou hulle as “ware kaalvoetvroue” beskryf het.
Opleiding as bevryding
Hoewel Susanna self nie formeel opgelei was nie, het sy geweet hoe belangrik opleiding is. Sy sou heel moontlik die woorde van Spreuke 1:7 aangehaal het: Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag.” In haar konteks sou sy opleiding gesien het as ’n instrument waarmee vroue hul gemeenskap se welstand en werksyn kon ophef.
Diensbaarheid bo selfverheerliking
Ek dink sy sou waarde geheg het aan die feit dat die fonds nie daarop uit is om bekendes van individue te maak nie, maar om gemeenskappe te herstel, gesinne te red, en jong dames hoop te gee. In haar denke het roeping altyd bo rang gekom.
Die rol van die vrou in nasiebou
As iemand wat haar plek gesien het binne ’n geloofsgemeenskap en volk, sou Susanna die fonds sien as ‘n manier om die “moeders van die nasie” toe te rus, vroue wat kinders voed, opvoed en vorm. Elke maatskaplike werker, onderwyser, dokter en entrepreneur wat uit die fonds voortkom, dien juis hierdie rol.
Die 28 vroue wat deur die Susanna Smit Studiefonds gehelp is, staan as fakkeldraers van hoop, vaardigheid en diens. Elke beroep waarin hulle studeer, het die potensiaal om duisende lewens aan te raak van die haarkapper wat selfvertroue bring, tot die dokter wat lewens red.
Die Susanna Smit Studiefonds is nie net ’n eerbewys aan ’n historiese figuur nie maar dit is ’n lewende beeld van ’n geloof, vroulike standvastigheid en ‘n visie vir vryheid deur opvoeding.
Gesonde vroue skep gesonde gesinne wat weer gesonde gemeenskappe tot gevolg het. Mag ons altyd aanhou om saam ons mede vriendinne en vrou van Suid-Afrika oor ons eie berge te stap, mekaar te help klim en mekaar aan te moedig om die reis tot ‘n voorspoedige toekoms nie net aan te durf nie maar te volhard. Mag ons almal kaalvoet vroue, vreesloos wees.
