Elkeen van ons het die vermoë om ‘n verskil te maak op een of ander wyse. Een van die maniere waarop ons dit kan doen, is deur ons erflatings of testamentêre bemakings. Deur jou erflating so te gebruik om behoeftige Afrikaanse studente te ondersteun, kan jy ‘n erfenis skep wat voortduur vir soveel verdere generasies. Solidariteit Helpende Hand se Studietrust maak hierdie proses moontlik, maklik en gee jou boonop die geleentheid om op boedelbelasting te bespaar.
Die Helpende Hand Studietrust is ‘n geregistreerde en publieke weldaadsorganisasie (OWO No. 93000 6586) wat ‘n belastingvoordeel vir u boedel kan inhou ingevolge artikel 4(h) van die Boedelbelastingwet. Dus kan jy met jou bemaking nie net ‘n student se lewe verander nie, maar ook op boedelbelasting spaar.
Solidariteit Helpende Hand se Studietrust administreer tans meer as 220 verskillende studiefondse (onafhanklike- en gemeenskapstudiefondse) namens verskeie donateurs. Ons het oor die afgelope 16 jaar reeds meer as 7000 behoeftige studente met meer as R340 miljoen bygestaan. Die Studietrust fasiliteer dus die rentevrye studielenings vir tersiêre studies by enige geakkrediteerde Suid-Afrikaanse instelling.
Erflatings is nie net ‘n manier om jou bates na jou dood te verdeel nie, maar dit is ook ‘n geleentheid om ‘n positiewe impak te maak op die lewens van ander. Deur jou erflating te gebruik om ‘n studiefonds te stig, kan jy die deur vir studente na tersiêre onderrig oopmaak. Studente wat andersins nie die geleentheid om te kan studeer sou hê nie.
Hoe kan jy ‘n bydrae maak:
1. Identifiseer ‘n behoefte: Daar is baie behoeftige Afrikaanse studente wat die finansiële ondersteuning nodig het om hul studies voort te sit. Identifiseer ‘n spesifieke behoefte wat jy wil aanspreek, soos finansiële bystand vir studente in ‘n spesifieke studieveld of vir studente van ‘n spesifieke gemeenskap.
2. Stig ‘n studiefonds: Jy kan ‘n studiefonds stig met die naam en kriteria van jou keuse. Daarna kan jy die Studietrust as ‘n begunstigde in jou testament benoem en so sal jou erflating dan verseker dat studente toegang kan hê tot tersiêre opleiding.
3. Bou ‘n blywende erfenis: Deur jou erflating op hierdie manier te gebruik, skep jy ‘n blywende erfenis. Elke student wat deur jou fonds ondersteun word, kry die geleentheid om hul eie suksesverhaal te skryf. En elke suksesverhaal dra by tot die voorspoed van die komende generasies.
By die Helpende Hand Studietrust is ons leuse dat elke student wat wil studeer moet kan studeer. Van hierdie studente wat m.b.v. ‘n rentevrye studielening kon studeer het die volgende terugvoer gehad:
“Ek het by Serwalo in Colbyn, Pretoria, gestudeer vir ‘n haarstilis. Ek het tans my eie haarsalon, en leef my passie ten volle uit! Ek wil net van my kant af baie dankie sê vir al julle bystand. Hierdie studielening het ‘n deur oopgemaak na sukses, en dit het alles by julle begin.”
– Cristal Henning
“Toe ek in matriek was en ons besig was om die aansoek vir universiteit te voltooi, het ons nie geweet hoe ons daarvoor gaan betaal nie. Ons het ‘n geloofstap geneem en nogsteeds voort
gegaan met die aansoek. Die Studietrust se hulp was werklik ‘n antwoord op gebede en dit het my gehelp tot op die punt wat ek nou is. Ek is tans in my derdejaar van Rekenaar Ingenieurswese by die Universiteit van Pretoriaen en dit is grootliks te danke aan Helpende Hand se Studietrust dat ek nou hier is. Weereens baie dankie.”
– Keagan Lynsky
Onthou, jou erflating is meer as net ‘n som geld. Dit is ‘n geleentheid om ‘n verskil te maak in die wêreld en om ‘n blywende erfenis te laat. Deur jou erflating te gebruik om hulpbehoewende Afrikaanse studente te ondersteun, kan jy help om ‘n beter toekoms vir die land te bou.