GEREELDE VRAE (FAQ's)
Wat doen die Helpende Hand Studietrust?
Die Helpende Hand Studietrust administreer en bestuur studiefondse namens donateurs wat jongmense wat nie die nodige finansies het nie in staat stel om te kan studeer nie. Die Studietrust behartig alle administrasie.
Waarmee help die Helpende Hand Studietrust?
Die Helpende Hand Studietrust bied gedeeltelike, rentevrye studielenings vir klasgeld. Die lenings is rentevry, en terugbetalings befonds weer die volgende student se studies.
Wie mag aansoek doen?
Behoeftige, Afrikaanssprekende studente wat hulp met studiekoste benodig en by ʼn geakkrediteerde tersiêre instansie in Suid-Afrika geregistreer is, kan aansoek doen.
Wanneer moet ek aansoek doen?
Doen jaarliks tussen 1 Julie en 30 September aanlyn aansoek vir die daaropvolgende studiejaar se klasgeld. Huidige leninghouers moet ook jaarliks weer aansoek doen om vir die volgende jaar se studiehulp in aanmerking te kom.
Wat as my aansoek onsuksesvol is?
Die Helpende Hand Studietrust ontvang jaarliks baie aansoeke en kan ongelukkig nie altyd almal wat aansoek doen, bystaan nie. Doen dus vroegtydig by soveel as moontlik instansies aansoek om jou kans op hulp groter te maak. Besoek www.jeug.co.za vir meer inligting oor instansies wat studiebeurse- en lenings bied. Studente kan gratis by Solidariteit Jeug registreer om die inligting te bekom.
Hoe werk aansoeke vir Akademia-studente?
Indien jy reeds by Akademia studeer of beoog om daar te studeer, moet jy eers deur Akademia (www.akademia.ac.za) se aansoekproses gaan. Dui by Stap 3 van die aansoekproses aan dat jy finansiering benodig. Solidariteit Finansiële Dienste (SFD) sal vir jou ʼn e-pos stuur wat die aansoekproses verduidelik en jou kontak. As SFD jou na die Helpende Hand Studietrust verwys, kan jy vir ʼn rentevrye studielening aansoek doen.
Hoe werk aansoeke vir Sol-Tech-studente?
Studente wat reeds by Sol-Tech studeer of beoog om daar te studeer, kan Sol-Tech (www.sol-Tech.co.za) direk kontak om eers deur hulle aansoekproses te gaan. Sol-Tech sal aansoekers na Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)verwys. SFD sal jou help om aansoek te doen vir ʼn rentedraende lening of jou na die Helpende Hand Studietrust verwys.
Hoe doen ek aansoek?
Gaan na https://aansoek.studiefonds.co.za en maak seker dat jy tussen 1 Julie en 30 September ʼn volledige aanlyn aansoek indien. Lenings word in Oktober, November en Desember toegeken.
Maak seker dat jy al agt stappe volledig afhandel én al die ondersteunende dokumente oplaai. Onvolledige aansoeke sal nie oorweeg kan word nie.
Wat maak ek indien sekere van die dokumente nie teen die sluitingsdatum beskikbaar is nie?
Om seker te maak dat jy jou aansoek steeds betyds indien, kan jy ʼn verklaring in die plek van die ontbrekende dokument oplaai.
LET WEL: Laai die dokument so spoedig as moontlik na afloop van die sluitingsdatum op deur weer op jou aanlyn profiel in te teken. Onvolledige dokumente kan die uitslae van jou aansoek beïnvloed.
Wat moet ek doen indien ek hulp nodig het met die aansoekproses?
Teken aanlyn op jou profiel in en stuur ʼn boodskap deur die stelsel. Die Studietrust sal jou met alle vrae behulpsaam wees.
Wanneer sal ek weet wat die uitslag van my aansoek is?
Maak asseblief seker dat jy die e-posadres waarmee jy aanlyn geregistreer en aansoek gedoen het dophou vir korrespondensie van die Studietrust af. Die Studietrust sal alle kommunikasie deur middel van e-pos aan jou stuur. Indien jy versuim om op e-posse te reageer, kan jy belangrike inligting mis en dit kan die uitslag van jou aansoek beïnvloed. Die toekenningsproses begin sodra die aansoeke sluit.
Die Studietrust administreer meer as 200 studiefondse wat elkeen oor hulle eie studiefondskomitee beskik. Sodra ʼn toekenning deur ʼn komitee gemaak is, sal die Studietrust die aansoeker in kennis stel. Onsuksesvolle kandidate sal teen Desember in kennis gestel word.